English: USE OF FERTILIZER NITROGEN ON INTENSIVE PASTURES
Stikstof (N) is die voedingselement wat in die grootste hoeveelhede deur weidingsgewasse uit die grond opgeneem word. Die beskikbaarheid van N en water tesame met temperatuur is gewoonlik die belangrikste faktore wat produktiwiteit van weidings bepaal.
Reaksie van weidingsgewasse op toegediende N
Die reaksie van weidings op N-bemesting is in verskeie plaaslike en internasionale navorsingsproewe bestudeer. In Suid Afrika het die navorsing hoofsaaklik gefokus op die N-behoefte van Raaigrasse, Kikoejoe en Oulandsgras (Eragrostis curvula), terwyl die navorsing op Kropaar, Langswenk en Smutsvinger (Digitaria eriantha) beperk is. ʼn Tipiese verwantskap tussen N-toedienings en droëmateriaalproduksie vir Kikoejoe word in Figuur 1 aangedui.

Figuur 1: Reaksie van N-bemesting op Kikoejoe in KwaZulu-Natal op ‘n Hoogland Suurveld met ekstrapolasie bokant 600 kg N/ha/jaar.
Toenemende N-peile toon aanvanklik ‘n verwantskap met opbrengs wat amper liniêre is (A), gevolg deur ‘n fase van dalende meer-opbrengs (B) en dan ‘n fase waar hoër N-peile min of geen effek op opbrengs het nie (C). Opbrengs/kg N gedurende fase A is van die tipe weiding, die tempo van beweiding en groeitoestande afhanklik. Die opbrengs/kg N van tropiese weidings is normaalweg hoër as die van gematigde weidings. Oulandsgras het byvoorbeeld 60 kg/kg N in veldproewe geproduseer terwyl raaigras slegs 25 tot 34 kg/kg N onder besproeiing in dieselfde gebied gelewer het. Die produksie van Meerjarige Raaigras is gemiddeld 23 kg/kg N oor die hele seisoen vir toedienings van 0 – 300 kg N/ha in die Verenigde Koningryk. Die reaksie op N-bemesting vir Meerjarige Raaigras is egter twee tot drie keer hoër in die lente as gedurende ander tye van die jaar.
Die reaksie van melkproduksie op toegediende N
Die opbrengsreaksie van weidingsgewasse op N-bemesting behoort ideaal gesproke vir ‘n melkboer in melkproduksie omgeskakel te word. Tipies word een liter melk/kg droëmateriaal of een kg onoplosbare melkbestanddele/15 kg droëmateriaal geproduseer. Die waarde van droëmateriaal is tans nagenoeg R2000/ton in melkboerdery in Suid Afrika. Ongeveer 9 tot 16 kg/melk/kg N bemesting word volgens buitelandse navorsing geproduseer. Hoër syfers in die verband het nie met betekenisvolle verhoging in melkproduksie/koei te doen nie maar wel met die hoeveelheid koeie/ha.
Verskille in reaksie tussen N-bronne
Ureum en KAN (kalksteenammoniumnitraat) is die twee belangrikste N-bronne wat op weidings gebruik word terwyl ander soos ammoniumsulfaat in ‘n mindere mate gebruik word. Weidingsgewasse neem beide ammonium-N en nitraat-N op, maar omdat ammonium (ook die ammonium-N afkomstig van ureum) gewoonlik binne ‘n paar weke na nitraat omgeskakel word, word die meeste N dan ook in die vorm van nitraat-N opgeneem. Hierdie N-omsetting is egter slegs effektief in goed deurlugte grond wat nie suur is nie by temperature bokant 5°C
Effektiwiteitsverskille tussen N-bronne word in ‘n groot mate deur grond en omgewingstoestande beïnvloed. Hierdie verskille hou dikwels verband met verskille in ammoniak vervlugtiging. Navorsing het bewys dat die ammoniakverliese van KAN weglaatbaar min is, ongeag grond en omgewingstoestande. In teenstelling met KAN kan aansienlike ammoniakverliese met ureum voorkom wat deur die volgende toestande bevorder sal word:
- Gronde met ‘n pH (H2O) hoër as 6 of waar kalk op die oppervlakte voorkom.
- Sanderige gronde met lae organiese materiaal inhoud en lae katioonuitruilkapasiteit.
- Nat of vogtige grondoppervlaktes wat deur warm bergwinde uitgedroog word.
- Toedienings bo-op ‘n deklaag van plantreste
- Hoë temperature in die lente en somer
Ammoniakvervlugtiging van ureum sal tot die minimum beperk word indien toedienings binne ‘n paar uur opgevolg word met besproeiing of voldoende reën. Ammoniakvervlugtiging kan egter baie groot wees indien ureum nie ingewas word nie. Die produksie van kikoejoe was byvoorbeeld tot soveel as 30% minder met ureum as met KAN onder droëland omstandighede, op ‘n suur grond, gemiddeld oor verskeie jare. Gegewe droëmassaproduksie van weidings in die orde van 14 t/ha/jaar teen ‘n waarde van R2000/t sal selfs ‘n N-verlies van so min as 10% nie die laer koste van ureum teenoor KAN regverdig nie. Hoewel die behandeling van ureum met urease inhibeerders die ammoniakvervlugtiging van ureum gewoonlik verminder kan aansienlike vervlugtiging oor die langtermyn nog steeds voorkom.
Met goeie bestuurspraktyke en tydsberekening van N-toedienings direk voor reënval is dit soos aangedui wel moontlik dat KAN net so effektief as ureum kan wees. Onsekerhede hieroor bly egter bestaan en daarom is dit nie verbasend dat boere wat weidings of ander gewasse plant toenemend KAN verkies nie. Soos wat een boer opgemerk het, “ Die gebruik van KAN is ‘n versekeringspolis teen verliese en haal die stres uit N-bestuur.
Let Wel: Raadpleeg ‘n gekwalifiseerde landboukundige vir meer lokaliteit spesifieke toepassings. Die resultate waarna in hierdie artikel verwys word, is onder spesifieke omstandighede verkry en daarom nie algemeen onder alle omstandighede toepasbaar nie.

