Skip to main content
All Posts By

Erik Adriaanse

Maak Ammoniumsulfaat deel van jou bemestingsprogram

By FERTILIZER PRODUCTS, Nitrogen, Nitrogen Products, PLANT & SOIL NUTRITION

ENGLISH: Include Ammonium Sulphate in your fertiliser program Die spesifieke aanwending van Ammoniumsulfaat as ‘n belangrike bron van Stikstof (21% N) en Swael (24% S) vir gewasproduksie Ammoniumsulfaat kan algemeen beskou word as ‘n baie geskikte aanvullende bron van stikstof (N) terwyl dit alle swael (S)-behoeftes kan aanspreek. Daar bestaan egter ook spesifieke omstandighede waar ammoniumsulfaat as die hoofbron van N meer voordelig as ander stikstofdraers is. Voor plant uitgestrooi Ammoniumsulfaat kan in groot hoeveelhede voor plant onder spilpunt-besproeiing uitgestrooi word, veral waar die pH van die grond hoog is en waar groot hoeveelhede plantreste in die grond na die vorige gewas ingewerk is. Ammoniumsulfaat vervlugtig baie min relatief tot ander N-draers, maar vervlugtiging kan onder alkaliese toestande betekenisvol wees en daarom moet dit verkieslik in die grond ingewerk word. Ammoniumsulfaat kan as die hoof bron van N breedwerpig voor plant met groter effek op opbrengs as ander N-draers onder sekere spesifieke omstandighede toegedien word (Figuur 1). Hoër opbrengs weens die gebruik van ammoniumsulfaat, soos in Figuur 1 hierbo aangedui, kan moontlik aan die volgende toegeskryf word: Die gewasreaksie op die toediening van S weens tekorte aan S in die grond. Minder N loging as met ander draers. Onder meer alkaliese toestande kan die groter versurende effek van ammoniumsulfaat ander voedingstowwe meer beskikbaar maak. Gebruik in plantmengsels Al die N in ammoniumsulfaat is in die ammonium (NH4+) vorm terwyl die meeste gewasse die beste op ‘n kombinasie van nitraat (NO3–) en ammonium reageer. Verder is die omsetting van gebandplaaste ammonium-N na nitraat-N gewoonlik baie stadig. Relatief klein hoeveelhede ammoniumsulfaat word in sommige korrel of vloeibare ammoniumnitraat gebaseerde plantmengsels ingemeng, om die sulfaat en ammonium-inhoud van die produkte te verhoog. ‘n Klein bietjie ekstra ammonium in die plantmengsel beteken dat minder van die plantmengsel se N dadelik sal loog. Ammoniumsulfaat as die enigste bron van N in plantmengsels wat gebandplaas word, word nie aanbeveel nie. Na plant uitgestrooi of gebandplaas Groot hoeveelhede ammoniumsulfaat kan breedwerpig na plant as die hoofbron van N uitgestrooi word of deur spilpunte toegedien word, maar moet dan verkieslik ingewerk word. Die praktyk om soveel as 100kg ammoniumsulfaat/ha direk na plant oor mielie-plantrye uit te strooi word onderskryf aangesien dit as versekering teen moontlike loging van die N in plantmengsels dien en omdat daar op die manier aan alle S behoeftes voldoen kan word. Die bandplasing van ammoniumsulfaat as die hoofbron van N in groot hoeveelhede in die grond, na plant word nie aanbeveel nie. Mengsels van KAN en ammoniumsulfaat in die verhouding van 75% KAN : 25% ammoniumsulfaat (bemark as KANAS deur party plaaslike kunsmis veskaffers), kombineer voordele van beide produkte en bevat 26.25% N en 6% S. Die verhouding van N:S stem nou ooreen met die behoeftes van baie gewasse met die bykomende voordeel dat N beide as nitraat en ammonium voorsien word. ‘n Vloeibare produk wat bestaan uit ‘n mengsel van ammoniumnitraat oplossing en ammoniumsulfaat bevat 18% N en 2.4% S en staan bekend as ammoniumsulfaatnitraat(ASN). Relatief groot hoeveelhede KANAS of ASN kan breedwerpig…

Read More

Effektiwiteit van KAN teenoor ureum, by verskillende tye van toediening, onder droë omstandighede vir mielies

By FERTILIZER PRODUCTS, Nitrogen, Nitrogen Products, PLANT & SOIL NUTRITION, Uncategorized

  ENGLISH: Efficacy of LAN compared to urea under dry conditions for maize Inleiding Stikstof (N) word normaalweg onder relatief hoë reënval beter benut wanneer dit later toegedien word, teen 4 tot 8 weke na plant, in vergelyking met voorplant toedienings (Grove et.al.1980). Daarteenoor het toedienings teen 2 weke na plant hoër opbrengs gelewer wanneer dit relatief droog is in vergelyking met toedienings teen 5 en 9 weke na plant (Adriaanse and Human 1993). ʼn Nitraat-N: ammonium-N verhouding van 1:1 het hoër opbrengs as ʼn 1:0 of 0:1 verhouding gelewer wanneer dit 2 weke na plant toegedien is (Adriaanse and Human, 1993). Soortgelyk is aangetoon dat kombinasies van nitraat en ammonium meer effektief was onder veldtoestande as enige van die twee vorms afsonderlik (Adriaanse, 1990 and Adriaanse and Human, 1991). Wanneer KAN in grondwater oplos is dit reeds in ʼn 1:1 nitraat-N: ammonium-N verhouding en gereed vir gewas-opname. In kontras hiermee is ureum nie tot dieselfde mate geredelik beskikbaar vir opname wanneer dit in grondwater oplos nie. Die tempo van direkte ureum-opname is stadiger as die van ammonium-N of nitraat-N. Ammonium-N sal ook direkte ureum-opname inhibeer. Selfs wanneer nitraat-N konsentrasies 25% minder is as ureum-N konsentrasies sal dit vinniger opgeneem word as ureum-N. Ureum word deur die proses van hidrolise slegs na ammonium omgeskakel en dan verder deur die proses van nitrifikasie na nitraat. Hierdie prosesse mag ʼn paar dae tot verskeie weke duur. Lae temperature, nat toestande en lae pH sal hierdie prosesse vertraag. Verder is ureum meer toksies, meer loogbaar en meer vervlugtigend as KAN (Adriaanse 2012a). Verskeie studies het hoër opbrengs vir KAN teenoor ureum aangetoon wanneer dit oor jare en oor lokaliteite vergelyk is (Adriaanse, 2012a, Adriaanse 2012b, Mangle and Hawkins, 1995, Levington Agriculture, 2009, ITGC, 2004, Avails, 1998). Die doel van die studie was om KAN en ureum met betrekking tot die volgende onder spesifieke droë omstandighede te ondersoek: Die optimum tyd vir N-toedienings. Die effektiwiteit van KAN teenoor ureum oor N-peile wat drie weke voor-plant, met-plant en drie weke na plant langs die rye in die grond gebandplaas is. Die effektiwiteit van KAN teenoor ureum by verskillende N-peile oor tye van toediening. Materiaal and Metodes Navorsing deur die LNR-IGG in die Viljoenskroondistrik is oor ‘n 3 jaar tydperk vanaf 1998 tot 2000 op dieselfde persele onderneem. Die grond was van die Avalon-grondvorm met ‘n sagte plintiet laag wat wissel in diepte van 1.2 m tot 1.7 m. Die klei-inhoude vir verskillende diepte inkremente was 9.1 % van 0 tot 15 cm, 10.4 % van 15 tot 30 cm en 16.0 % van 30 tot 60 cm. Die proef is elke jaar voorafgegaan deur ‘n rip-op-ry-bewerking tot op ‘n diepte van 0.6 tot 0.7 m. Behandelings het uit 5 stikstof-peile (35 tot 175 kg N/ha, 3 tye van toediening (voor-plant, met-plant of na-plant) en 2 N-bronne (KAN of Ureum) plus 2 kontroles (0 kg N/ha) bestaan wat faktoriaal gekombineer is in ‘n ewekansige blokontwerp en twee keer herhaal is. Toediening was 3 weke voor-plant, met-plant of…

Read More

Verskille in loging tussen Stikstofbronne

By Nitrogen, Nitrogen Products, PLANT & SOIL NUTRITION

ENGLISH: Leaching of different N Sources Afwaartse of sywaartse beweging van grondwater waarin anorganiese stikstof (N) opgelos is, kan opbrengs en wins bo kostes drasties verminder. Kennis oor verskille in loging tussen stikstofbronne kan nuttig toegepas word om die risiko van stikstofloging te beperk. Bestuurspraktyke soos tye en metodes van toediening kan ook ‘n belangrike rol hierin speel. Basiese beginsels uit die wetenskap en gevallestudies, waar duur lesse geleer is, is gebruik om riglyne vir die bekamping van stikstofloging daar te stel. Anorganiese stikstof afkomstig van alle stikstofbronne wat in grondwater opgelos is bestaan uit een of ‘n kombinasie van Nitraat-N, Ammonium-N en Ureum-N. Die vertikale beweging van hierdie vorms van N saam met grondwater word vir ‘n Sandleemgrond in Figuur 1 en vir ‘n Kleigrond in Figuur 2 uitgebeeld. In beide gronde het Ammonium-N baie min geloog, maar baie van die Nitraat-N en Ureum-N het tot op die vlak van waterindringing geloog. ‘n Klein bietjie meer Ammonium-N het in die Sandleemgrond teenoor die Kleigrond in die grond in beweeg, maar dit is so min dat dit vir praktiese doeleindes weglaatbaar is. Meer van die toegediende Ureum-N sowel as meer van die toegediende Nitraat-N het tot op die vlak van waterindringing in die Sandleemgrond teenoor die Kleigrond geloog. Die helfte van KAN sal soos Ammoniumsulfaat reageer terwyl die ander helfte soos Kalsiumnitraat sal reageer aangesien dit uit 50% Ammonium-N en 50% Nitraat-N bestaan. Hoewel KAN volgens Figure 1 en 2 onmiddellik 50% minder loog as ureum kan die Ammonium-N komponent met verloop van tyd deur die nitrifikasie proses ook na Nitraat-N omgeskakel word wat dan kan loog. Die effek van KAN wat kort voor plant en met plant toegedien is en toe weens baie reën geloog het word in Foto 1 aangedui. Ernstige tekorte aan stikstof in die blare en in die grond tot op ‘n diepte van 60 cm is met die ondersoek bevestig. Oesverlies weens loging van N was in die geval waarskynlik 7 tot 8 ton/ha. Alhoewel die risiko vir loging aansienlik minder is met KAN as ureum, behoort die voorplant toedienings van beide, ureum en KAN op baie goed gedreineerde gronde, vermy te word ten einde die risiko van loging te verminder. ‘n Geval van vertikale sowel as laterale beweging van stikstof weens baie reën word in Foto 2 aangedui. Stikstofontledings in ‘n strook oor die rye in die boonste 750 mm grond was by A vir die verpotte geel mielies 39 kg/ha terwyl dit vir die groot groen mielies 179 kg/ha was. Stikstofontledings tussen die rye, waar stikstof nie toegedien is nie, was vir beide A en B, 32 kg N/ha in die boonste 600 mm grond. Variasie in plantegroei is dus direk in verband gebring met variasie in N ontledings, oor die rye, in die grond. Hierdie verskynsel kom baie algemeen onder hoë reënval omstandighede op sanderige gronde, ongeag tyd van toediening voor. Die effek word dikwels verkeerdelik aan die swak kwaliteit van kunsmis of oneweredige toediening van kunsmis toegeskryf. Wat kan ons doen om…

Read More

Verskille in vervlugtiging tussen Stikstofbronne

By FERTILIZER PRODUCTS, Nitrogen, Nitrogen Products, PLANT & SOIL NUTRITION

ENGLISH: Volatilization differences between N sources Vervlugtiging van toegediende stikstof geskied hoofsaaklik in die vorm van ammoniak (NH3), hoewel verliese in die vorm van atmosferiese stikstof (N2 en N2,O) ook moontlik is. Ammoniak ontstaan uit ammonium (NH4+) bevattende en vormende kunsmis wanneer daar nie genoeg grondwater is waarin die ammonium kan oplos nie, soos wanneer die kunsmis op of naby die oppervlakte toegedien en gelaat word. Atmosferiese stikstof word van nitraat stikstof (NO3–) gevorm wanneer die bogrond vir lang periodes met water versadig is en daar dus ʼn volgehoue gebrek aan suurstof in die grond bestaan. Onder Suid-Afrikaanse toestande is ʼn gebrek aan voldoende water meer tipies ʼn probleem as lang periodes van versuiping. Die artikel fokus op ammoniak verliese uit toegediende kunsmis saam met faktore wat dit beïnvloed soos grond pH en temperatuur. Die effektiwiteit van urease inhibeerders wat die omsetting van ureum na ammoniak vertraag en sodoende ammoniakverliese beperk word saam met ander moontlike oplossings vir die probleem bespreek. Ammoniakverliese word baie sterk deur grond pH beïnvloed (Figuur 1). Grond pH verhogings van 6.5 na 9.1 het ammoniak verliese by ureum met 18% oor vyf gronde verhoog. Ureum het die meeste vervlugtig gevolg deur DAP, Ammoniumsulfaat, MAP en KAN. Die verskil in vervlugtiging tussen ureum en KAN was 15% by ʼn pH van 9.1. Die omsetting van ureum na ammonium gaan ook gepaard met ʼn pH verhoging in die grond wat verklaar waarom ureum meer vervlugtig as ander stikstofbronne wat dieselfde hoeveelheid ammonium-N vrystel. Soortgelyk sal DAP die pH van grondoplossings verhoog. Die implikasie hiervan is dat hoër peile van toediening, wat meer kunsmiskorrels per eenheidsoppervlakte tot gevolg het, die grond pH meer sal verhoog en dus die % ammoniak verlies ook sal verhoog. Die hoeveelheid ammoniak wat moontlik kan vervlugtig kan veel meer wees as wat in Figuur 1 aangedui word. Du Preez & Burger (1986) het ammoniak verliese van tot 55% by ureum toedienings van 240 kg N/ha, op ʼn grond met ʼn klei-inhoud van 50% en ʼn oorspronklike pH (H2O) van 7.5 aangetoon. Botha & Pretorius (1988) het ammoniak verliese van tot 61% by ureum toedienings van 83 kg N/ha op ʼn grond met ʼn klei-inhoud van 9.5% en ʼn pH (H2O) van 7.9 (na ureum toedienings) aangetoon. Fenn & Miyamoto (1981) het ammoniak verliese van 66% na oppervlak toedienings van ureum op ʼn grond met ʼn pH van 7.8 (H2O) aangetoon. Temperature wat toeneem van die lente tot midsomer het ʼn drastiese toename in ammoniak verliese uit ureum en UAN tot gevolg, maar het byna geen effek op ammoniak verliese uit KAN nie (Figuur 2). Hoeft et.al. (2000) het aangedui dat die gebruik van urease inhibeerders die grootste potensiaal het om effektief te wees bo 10° C. Urease inhibeerder soos Agrotain, SKW Piesteritz en Hanfeng Evergreen vertraag die omsetting van ureum na ammoniak en dus ook die vrystelling van ammoniak. Gemiddelde verminderings in ammoniak vrystellings van 70% (25 tot 100%) vir ureum en 44% (15 tot 71%) vir UAN is al vir Agrotain gerapporteer (Chambers…

Read More

Die verskil in toksisiteit tussen KAN en ureum

By FERTILIZER PRODUCTS, Nitrogen, Nitrogen Products, PLANT & SOIL NUTRITION

ENGLISH: Differences in toxicity effects between LAN and urea Plantmengsels verskil wat stikstof (N) samestelling aanbetref. Die nitraat-N: ammonium-N-verhouding kan in ‘n groot mate verskil afhangende van die verhouding van grondstowwe wat gebruik is. Die optimum nitraat: ammonium-verhouding is naby 3:1 terwyl 100% ammonium wat gebandplaas word gewoonlik plantegroei en opbrengs onderdruk (Adriaanse 1990). Sommige verskaffers gebruik gedeeltelik of uitsluitlik ureum-N in plantmengsels. Ureum naby ontwikkelende saailinge kan in so ‘n mate toksies wees dat ontkiemende saad en saailinge afsterf. Die bandplasing van sekere stikstofbronne naby ontwikkelende saailinge weg van die plantmengsel kan ook opbrengs onderdruk (Adriaanse 2012). Verder kan gewasproduksie onderdruk word wanneer N algeheel oorvoorsien is (Adriaanse & Schmidt, 2003) . Hierdie artikel fokus veral op moontlike nadelige effekte en simptome van gebandplaasde KAN en ureum op ontkieming, opkoms en produksie van mielies en koring. Plantestandverlies Ureum-N wat die ontkieming en opkoms van saad sodanig inhibeer dat jong saailinge afsterf word in Foto 1 aangetoon. Ammoniumnitraat wat teen dieselfde N konsentrasie toegedien is, het geen toksiese effekte getoon nie (Foto 1). Produsente verwar dikwels diè simptome met swak kiemkragtigheid of groeikragtigheid van saad. Verder word sulke swak opkoms onder andere ook verkeerdelik toegeskryf aan die skade wat deur meerkatte of grondinsekte veroorsaak word. Navorsing aan die LNR-IGG (Adriaanse,1991) het aangetoon dat die verlies aan plantestand soveel as 5000 plante/ha met KAN kan wees teenoor nagenoeg 16000 plante/ha met ureum wanneer hierdie bronne teen 100 kg N/ha, 50 tot 100 mm direk onder die saad by 1.5 m wye rye gebandplaas is (Grafiek 1). Die plantestandverlies by toedienings van 75 en 100 kg N/ha was betekenisvol meer met ureum as met KAN (Grafiek 1). Opbrengsverlies Plantestandverlies is ‘n aanduiding van baie erge toksisiteit. Onderdrukking van plantegroei en opbrengsverlies kan dus by veel laer N-toedienings verwag word. Ureum wat so ver weg as 10 tot 15 cm vanaf rye en 10 cm diep met planttyd geplaas is, het mielieopbrengs onderskeidelik met 20% en 44% by N-peile van 100 kg/ha en 175 kg/ha by ry wydtes van 1.5 m teenoor KAN onderdruk (Adriaanse, 2012). Produsente wat ureum op hierdie wyse toegedien het sou in alle waarskynlikheid nie bewus gewees het van die verlies aan opbrengs weens ureum toksisiteit nie. Daar is steeds ‘n opbrengs van 5 ton/ha by ureum toedienings van 100 kg N/ha verkry, wat naby aan die potensiaal vir die gebied is, en geen toksiese simptome is op die plante waargeneem nie. Simptome Simptome van ureum en KAN toksisiteit weens te hoë konsentrasies in die grond sal heel waarskynlik lei tot opbrengsverlies. Daarteenoor sal toksiese skroei-simptome wat veroorsaak is deur uitstrooiings oor die blaredak, waarskynlik nie aanleiding gee tot opbrengsverlies nie. Simptome van ureum en KAN toksisiteit weens hoë konsentrasies in die grond vertoon dooie blaarpunte en blaarrante van die voorste dele van nuwe blare (Foto 2 en Foto 3). Skroei-simptome stem ooreen hiermee, maar ander dele van blare wat direk aan die kunsmis blootgestel is sal ook letsels toon. Skroei-simptome wat deur ureum uitstrooiings (Foto 4) veroorsaak is, is…

Read More

El Nino of La Nina - bestuur stikstof (N) in die grond om maksimum mielieopbrengs, maksimum wins en minimum risiko te verseker

By Nitrogen, Nitrogen Products

ENGLISH: El Nino or La Nina – manage nitrogen (N) in the soil to ensure maximum maize yield, maximum profit and minimum risk. Die hoeveelheid ontleedbare anorganiese N wat deurlopend gedurende die groeiperiode in die grond moet wees vir maksimale opbrengs verskil nie van El Nino (droog) na La Nina (nat) of gemiddelde reënval seisoene nie, hoewel die werklike opbrengs, winsgewendheid, en risiko van mielieproduksie in ʼn baie groot mate tussen die omstandighede kan verskil. Die hoeveelheid N wat deur die gewas opgeneem en benut word verskil egter ook in ʼn baie groot mate tussen droë en nat seisoene. Daarom kan verwag word dat meer stikstof tydens ʼn nat seisoen toegedien sal word ten einde die hoeveelheid stikstof in die grond deurlopend op ʼn bepaalde drempel te handhaaf. Na afloop van ʼn droë seisoen kan verwag word dat daar meer N in die grond oor sal wees wat vir die volgende seisoen effektief benut kan word. Deur ʼn bepaalde N-drempel gedurende elke seisoen te handhaaf sal daar dus in effek oor seisoene volgens verkreë opbrengs en dus stikstofverwydering uit die grond bemes word. Verliese en toksiese effekte van N word egter baie sterk deur ʼn tekort of oormaat reën beïnvloed. Afgesien van grondmetings van N kan die keuse van N-bron en bestuurspraktyke ʼn belangrike rol speel om hierdie nadelige effekte te bekamp. Die El Nino verskynsel gaan ook gepaard met hoë temperature wat vervlugtigingsverliese van ammoniak vormende N-bronne soos ureum bevorder. Ammoniakverliese kan van oppervlak-toedienings sowel as grond ingewerkte toedienings onstaan wanneer die bogrond uitdroog. Ammoniak naby plantwortels sal onder droë omstandighede toksies wees. Urease inhibeerders soos NBPT sal die vervlugtiging en toksisiteit van ureum verminder of vertraag maar nie uitskakel nie. KAN is selfs by hoë temperature baie min vervlugtigend en in ʼn baie gekonsentreerde vorm slegs matig toksies. Hiervolgens behoort die bandplasing van ammoniakvormende N-bronne in hoë konsentrasies met planttyd, maar selfs ook voor planttyd vermy te word. Die La Nina verskynsel gaan ook gepaard met hoë intensiteit van reën wat tot die loging van N in goed gedreineerde gronde of tot waterversadigde profiele in swak gedreineerde gronde aanleiding gee. Ureum-N en nitraat-N is ewe loogbaar, maar omdat nitraat-N baie vinniger opgeneem word as ureum-N, loog dit in effek minder. Ammonium-N loog baie min en is ook vinniger opneembaar as ureum-N. KAN sal dus ook minder loog as ureum. Voorplant-toedienings behoort eerder weens die risiko van loging vermy te word en meervoudige naplant-toedienings oorweeg te word.

Read More