Die hoeveelheid ontleedbare anorganiese N wat deurlopend gedurende die groeiperiode in die grond moet wees vir maksimale opbrengs verskil nie van El Nino (droog) na La Nina (nat) of gemiddelde reënval seisoene nie, hoewel die werklike opbrengs, winsgewendheid, en risiko van mielieproduksie in ʼn baie groot mate tussen die omstandighede kan verskil.
Die hoeveelheid N wat deur die gewas opgeneem en benut word verskil egter ook in ʼn baie groot mate tussen droë en nat seisoene. Daarom kan verwag word dat meer stikstof tydens ʼn nat seisoen toegedien sal word ten einde die hoeveelheid stikstof in die grond deurlopend op ʼn bepaalde drempel te handhaaf. Na afloop van ʼn droë seisoen kan verwag word dat daar meer N in die grond oor sal wees wat vir die volgende seisoen effektief benut kan word. Deur ʼn bepaalde N-drempel gedurende elke seisoen te handhaaf sal daar dus in effek oor seisoene volgens verkreë opbrengs en dus stikstofverwydering uit die grond bemes word.
Verliese en toksiese effekte van N word egter baie sterk deur ʼn tekort of oormaat reën beïnvloed. Afgesien van grondmetings van N kan die keuse van N-bron en bestuurspraktyke ʼn belangrike rol speel om hierdie nadelige effekte te bekamp.
Die El Nino verskynsel gaan ook gepaard met hoë temperature wat vervlugtigingsverliese van ammoniak vormende N-bronne soos ureum bevorder. Ammoniakverliese kan van oppervlak-toedienings sowel as grond ingewerkte toedienings onstaan wanneer die bogrond uitdroog. Ammoniak naby plantwortels sal onder droë omstandighede toksies wees. Urease inhibeerders soos NBPT sal die vervlugtiging en toksisiteit van ureum verminder of vertraag maar nie uitskakel nie. KAN is selfs by hoë temperature baie min vervlugtigend en in ʼn baie gekonsentreerde vorm slegs matig toksies. Hiervolgens behoort die bandplasing van ammoniakvormende N-bronne in hoë konsentrasies met planttyd, maar selfs ook voor planttyd vermy te word.
Die La Nina verskynsel gaan ook gepaard met hoë intensiteit van reën wat tot die loging van N in goed gedreineerde gronde of tot waterversadigde profiele in swak gedreineerde gronde aanleiding gee. Ureum-N en nitraat-N is ewe loogbaar, maar omdat nitraat-N baie vinniger opgeneem word as ureum-N, loog dit in effek minder. Ammonium-N loog baie min en is ook vinniger opneembaar as ureum-N. KAN sal dus ook minder loog as ureum. Voorplant-toedienings behoort eerder weens die risiko van loging vermy te word en meervoudige naplant-toedienings oorweeg te word.


